Spring na inhoud

HULP VIR DIE GESIN | OUERSKAP

Hoe om leiding vir jou kinders te gee

Hoe om leiding vir jou kinders te gee

 Wat jy moet weet

 In party kulture vandag is kinders baie na aan hulle ouers en maak hulle staat op hulle ouers om vir hulle leiding te gee. In ander kulture vra kinders dikwels vir ander kinders van dieselfde ouderdom vir raad.

 Die tweede situasie veroorsaak dat kinders nie respek het vir hulle ouers se gesag nie. Om die waarheid te sê, teen die tyd dat ’n kind ’n tiener is, voel ouers dalk asof hulle glad nie meer ’n invloed op hulle kind het nie. En dit verbaas ons nie! Wanneer kinders soveel tyd met ander kinders spandeer, is dit asof hulle mekaar grootmaak en nie asof hulle ouers hulle grootmaak nie.

 Hoekom is dit so maklik vir kinders om ’n band met ander kinders te hê in plaas van hulle ouers? Kyk na die volgende faktore.

  •   Skool. Wanneer kinders die meeste van hulle tyd met ander kinders deurbring, raak hulle baie na aan hierdie kinders. Dit is ook dikwels vir hulle dan belangriker wat hierdie kinders van hulle dink as wat hulle eie ouers dink. Hierdie houding kan baie erger word wanneer hulle tieners word.

    Ouers se goedkeuring moet belangriker wees vir kinders as hulle skoolmaats se goedkeuring

  •   Minder tyd saam. In baie gesinne is daar niemand by die huis wanneer die kinders terug kom van die skool nie. Die rede is dalk omdat een of albei ouers werk.

  •   Tieners. Teen die tyd dat jongmense tieners is, word hulle baie beïnvloed deur hoe ander tieners sê hulle moet aantrek, praat of optree. Wat ander jongmense van hulle dink, is dikwels vir hulle belangriker as wat hulle ouers dink.

  •   Bemarking. Besighede voorsien produkte en vermaak wat net op jongmense fokus en nie op grootmense nie. Daarom is dit moeiliker vir ouers en tieners om mekaar te verstaan. Dr. Robert Epstein skryf dat as hierdie mark vir tieners heeltemal verdwyn, “sou hierdie multimiljoenrand-bedryf dadelik ondergaan”. a

 Wat jy kan doen

  •   Hou jou verhouding met jou kind sterk.

     Die Bybel sê: “Hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees, en jy moet dit vir jou kinders herhaal en daaroor praat wanneer jy in jou huis sit en wanneer jy op die pad loop en wanneer jy gaan lê en wanneer jy opstaan.” – Deuteronomium 6:6, 7.

     Ander jongmense kan vriende vir jou kinders wees, maar hulle kan nooit jou rol as ouer vervang nie. Die goeie nuus is dat kenners sê dat die meeste kinders en tieners hulle ouers respekteer en hulle gelukkig wil maak. As jy gedurig aan jou verhouding met jou kinders werk, sal jy meer invloed op hulle kan hê as ander jongmense.

     “Spandeer tyd met jou kinders. Julle moet elke dag dinge saam doen, soos om te kook, skoon te maak en selfs huiswerk saam te doen. Doen lekker dinge saam. Speel speletjies, kyk flieks of TV. Moenie dink dat jy net ’n bietjie ‘kwaliteittyd’ saam nodig het nie – ’n paar ure hier en daar nie. Jy kan nie ’n goeie verhouding opbou as jy nie genoeg tyd saam deurbring nie!” – Lorraine.

  •   Maak seker jou kinders is nie net vriende met ander wat dieselfde ouderdom as hulle is nie.

     Die Bybel sê: “Dwaasheid sit vas in die hart van ’n kind.” – Spreuke 22:15.

     Dit maak party ouers bly as hulle sien dat hulle kind baie vriende het. Maar al lyk dit asof ’n kind oor die weg kom met ander omdat hy baie vriende het, het hy vriende van verskillende ouderdomme nodig om ’n volwasse grootmens te word. En ander jongmense kan nie die raad of leiding gee wat ’n jongmens nodig het en wat liefdevolle ouers kan gee nie.

     “Ander jongmense het dalk kennis oor party dinge. Maar hulle weet nie veel oor die lewe nie. Hulle het ook nie die ondervinding of wysheid wat ander jongmense kan help om goeie besluite te maak nie. Wanneer jongmense na hulle ouers luister, pas hulle volwassenheid by hulle ouderdom.” – Nadia.

  •   Gee wyse raad en leiding.

     Die Bybel sê: “Die een wat met wyse persone assosieer, sal wys word.” – Spreuke 13:20.

     Selfs al word kinders ouer, kan hulle baie by jou leer as hulle tyd met jou spandeer. Wees ’n goeie voorbeeld vir hulle.

     “Die belangrikste rolmodel wat kinders kan hê, is hulle ouers. Wanneer kinders geleer word om respek en liefde vir hulle ouers te hê, sal hulle soos hulle ouers wil word.” – Katherine.

a Uit die boek Teen 2.0—Saving Our Children and Families From the Torment of Adolescence.