Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | HET ONS GOD NODIG?

Waarom ons God nodig het

Waarom ons God nodig het

Deskundiges op die gebied van geestesgesondheid sê dat mense geestelike waardes nodig het om werklik gelukkig te wees. Dit word bevestig deur die feit dat mense aan iets wil behoort of iemand of ’n sekere saak wil dien wat groter as hulle is. Om in hierdie behoefte te voorsien, wy party hulle vrye tyd aan die natuur, kuns, musiek, ensovoorts. Tog put die meeste nie groot of blywende bevrediging uit sulke strewes nie.

God wil hê dat mense nou en vir ewig gelukkig moet wees

Die feit dat mense ’n ingebore geestelike behoefte het, verbaas Bybellesers glad nie. Die eerste hoofstukke van Genesis toon dat God ná die skepping van die eerste mensepaar gereeld met hulle gepraat het, wat dit vir hulle moontlik gemaak het om ’n geestelike verhouding met hom op te bou (Genesis 3:8-10). God het mense nie gemaak om onafhanklik van hom te lewe nie; hulle het ’n behoefte daaraan om met hulle Maker te kommunikeer. Die Bybel verwys dikwels na hierdie behoefte.

Jesus het byvoorbeeld gesê: “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte” (Matteus 5:3). Uit hierdie woorde kan ons aflei dat ons in ons ingebore geestelike behoefte moet voorsien as ons ’n gelukkige en bevredigende lewe wil lei. Hoe kan ons dit doen? Jesus het getoon wat die antwoord is toe hy gesê het: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat uit Jehovah se mond kom” (Matteus 4:4). In watter opsigte maak God se woorde, dit wil sê God se gedagtes en voorskrifte wat in die Bybel gevind word, dit vir ons moontlik om ’n gelukkige en sinvolle lewe te lei? Kom ons bespreek drie belangrike opsigte.

Ons het goeie leiding nodig

Vandag is daar tallose deskundiges wat gereed is om raad te gee oor verhoudings, liefde, die gesinslewe, geskilbeslegting, geluk en selfs die doel van die lewe. Maar is enigiemand beter in staat om goeie, gebalanseerde leiding op al hierdie gebiede te voorsien as die mensdom se Maker, Jehovah God?

Ter toeligting: Wanneer jy ’n nuwe toestel koop, soos ’n kamera of ’n rekenaar, verwag jy dat jy ook ’n gebruikershandleiding sal kry wat verduidelik hoe jy die produk ten beste kan benut en hoe dit jou die grootste tevredenheid kan verskaf. Die Bybel kan met so ’n handleiding vergelyk word. Dit is ’n gids vir menselewe wat God, as ’t ware die vervaardiger, beskikbaar gestel het aan ons, die gebruikers. Hierdie “gebruikershandleiding” verduidelik waarvoor die produk ontwerp is en hoe dit gebruik moet word om die beste resultate te verkry.

Soos ’n gebruikershandleiding is die Bybel ’n gids vir die lewe

Soos in die geval van enige goed geskrewe gebruikershandleiding, waarsku die Bybel lesers teen gebruike wat die veilige en betroubare werking van die “produk”—ons lewe—kan belemmer. Raad wat ander gee of kortpaaie wat hulle aanbeveel, klink miskien aanloklik, selfs wenslik, maar is dit nie logies dat ons die beste resultate sal verkry en probleme sal voorkom as ons die Maker se leiding volg nie?

“Ek, Jehovah, is jou God, die Een wat jou leer om jouself te bevoordeel, die Een wat jou laat loop op die weg wat jy moet bewandel. Ag, as jy maar aan my gebooie aandag sal skenk! Dan sal jou vrede net soos ’n rivier word, en jou regverdigheid soos die golwe van die see.”—Jesaja 48:17, 18

Hoewel Jehovah God leiding en voorskrifte voorsien, dwing hy ons nie om dit te aanvaar nie. As ’n liefdevolle Weldoener doen hy eerder ’n beroep op ons: “Ek, Jehovah, is jou God, die Een wat jou leer om jouself te bevoordeel, die Een wat jou laat loop op die weg wat jy moet bewandel. Ag, as jy maar aan my gebooie aandag sal skenk! Dan sal jou vrede net soos ’n rivier word, en jou regverdigheid soos die golwe van die see” (Jesaja 48:17, 18). Kortom, as ons God se leiding volg, sal ons ’n goeie lewe hê. Anders gestel, om ’n goeie lewe te hê en gelukkig te wees, het ons God nodig.

Ons kan die leiding en hulp wat ons nodig het, in die Bybel vind

Ons het oplossings vir die lewe se probleme nodig

Party mense meen dat hulle God nie nodig het nie omdat daar soveel verwarrende kwessies in die lewe is wat strydig is met die opvatting dat God liefdevol is. Hulle vra dalk: ‘Waarom moet goeie mense ly?’ ‘Waarom word onskuldige babas soms gebreklik gebore?’ ‘Waarom is die lewe so onregverdig?’ Dit is beslis belangrike vrae, en as ons bevredigende antwoorde daarop kry, kan dit ’n diepgaande uitwerking op ons lewe hê. In plaas daarvan om God dadelik die skuld te gee vir sulke probleme, kan ons eerder kyk hoe God se Woord, die Bybel, lig hierop werp.

In die derde hoofstuk van Genesis vind ons die verslag oor Satan, wat ’n slang gebruik het toe hy die eerste mensepaar sover probeer kry het om ongehoorsaam te wees aan Jehovah God se bevel om nie van die boom van die kennis van goed en kwaad te eet nie. “Julle sal sekerlik nie sterf nie”, het Satan vir Eva gesê. “Want God weet dat die dag as julle daarvan eet, julle oë sekerlik geopen sal word en julle sekerlik soos God sal word deur goed en kwaad te ken.”—Genesis 2:16, 17; 3:4, 5.

Met hierdie woorde het Satan nie net te kenne gegee dat God ’n leuenaar is nie, maar ook dat God se manier van regeer onregverdig is. Die Duiwel het aangevoer dat die mensdom beter sal vaar as hulle na hóm luister. Hoe kon hierdie geskille besleg word? Jehovah het besluit om gebeure hulle gang te laat gaan sodat almal kon sien of die aantygings teen hom waar of onwaar is. God het Satan en diegene wat hulle aan sy kant geskaar het, in werklikheid die geleentheid gebied om te toon of mense ’n goeie lewe sonder God kan hê.

Wat dink jy is die antwoord op Satan se aantygings? Kan mense ’n goeie lewe hê en met welslae oor hulleself regeer sonder God? Lyding, ongeregtigheid, siekte en die dood sowel as misdaad, sedelike verval, oorloë, volksmoorde en ander gruwels teister die mensdom al eeue lank, en dit lewer onweerlegbare bewys dat mensepogings om onafhanklik van God oor hulleself te regeer, ’n volslae mislukking is. Volgens die Bybel is God nie verantwoordelik vir die mensdom se ellendes nie, maar is ’n vername oorsaak daarvan eerder dat “die mens oor die mens geheers het tot sy nadeel”.—Prediker 8:9.

Is dit dan nie duidelik dat ons ons tot God moet wend, nie net vir die antwoorde op die mensdom se kwellende vrae nie, maar ook vir die oplossing? Wat sal God doen?

Ons het God se hulp nodig

Mense smag al lank na ’n lewe sonder siekte, veroudering en die dood. Hulle het al ontsaglik baie tyd, energie en middele bestee om dit te verkry, maar tevergeefs. Party het gehoop om so ’n lewe te verkry deur middel van die legendariese lewenselikser, die fontein van die jeug, Shangri-La of iets soortgelyks. Al hierdie drome was teleurstellend.

God wil hê dat mense ’n goeie lewe moet hê en gelukkig moet wees. Dit was sy oorspronklike voorneme toe hy die mens geskep het, en hy het nie daarvan vergeet nie (Genesis 1:27, 28; Jesaja 45:18). Jehovah God verseker ons dat alles wat hy hom voorneem om te doen, beslis gedoen sal word (Jesaja 55:10, 11). Die Bybel praat van God se belofte om die Paradystoestande wat die eerste mensepaar verloor het, te herstel. In die laaste boek van die Bybel vind ons hierdie woorde: “Hy [Jehovah God] sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan” (Openbaring 21:4). Hoe sal God hierdie wonderlike toestande tot stand bring, en hoe kan ons by hierdie belofte baat vind?

God se Seun, Jesus Christus, het sy volgelinge geleer om te bid dat God se wil moet geskied. Hierdie gebed, wat die Onse Vader genoem word, is baie bekend en word dikwels herhaal. Daarin word gesê: “Ons Vader in die hemele, laat u naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde” (Matteus 6:9, 10). Ja, God se Koninkryk is die middel waardeur Jehovah God die droewige gevolge van menseheerskappy tot niet sal maak en die regverdige nuwe wêreld wat hy beloof het, tot stand sal bring (Daniël 2:44; 2 Petrus 3:13). * Wat moet ons doen om by God se belofte baat te vind?

Jesus Christus toon watter eenvoudige stap van ons vereis word: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). Ja, met God se hulp is eindelose lewe in die beloofde nuwe wêreld binne ons bereik. Hierdie vooruitsig sal jou heel moontlik oortuig van nog ’n rede om ja te antwoord op die vraag: Het ons God nodig?

’n Tyd om op God staat te maak

Tweeduisend jaar gelede, by die Areopagus, of Marsheuwel, in Atene, het die apostel Paulus vir die vrydenkende Ateners gesê dat God “self aan almal lewe en asem en alles gee. Want deur hom het ons lewe en beweeg en bestaan ons, soos ook sommige van die digters onder julle gesê het: ‘Want ons is ook sy nakomelinge.’”—Handelinge 17:25, 28.

Wat Paulus vir die Ateners gesê het, is nog die geval. Ons Skepper voorsien die lug wat ons inasem, die kos wat ons eet, die water wat ons drink. Ons kan eenvoudig nie lewe sonder die goeie dinge wat Jehovah voorsien om ons lewe te onderhou nie. Maar waarom hou Jehovah aan om hierdie dinge aan alle mense te voorsien, hetsy hulle aan hom dink of nie? Paulus het gesê dat dit is “sodat hulle God sou soek, indien hulle na hom sou tas en hom werklik sou vind, hoewel hy eintlik nie ver van elkeen van ons af is nie”.—Handelinge 17:27.

Wil jy God graag beter leer ken, dit wil sê meer leer omtrent sy voornemens en sy raad oor hoe om nou en vir ewig ’n goeie lewe te hê? Indien wel, spoor ons jou aan om te praat met die persoon wat hierdie tydskrif vir jou gegee het of om met die uitgewers in aanraking te kom. Hulle sal jou met graagte help.

^ par. 20 Vir meer inligting oor hoe die Koninkryk God se wil op die aarde sal laat geskied, sien hoofstuk 8 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies. Dit is ook aanlyn beskikbaar en kan afgelaai word van www.isa4310.com/af.