Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Gesprek met ’n buurman

Straf God mense in ’n helse vuur?

Straf God mense in ’n helse vuur?

JEHOVAH SE GETUIES geniet dit om die Bybel met mense te bespreek. Is daar ’n spesifieke Bybelonderwerp waaroor jy al gewonder het? Is daar enige van die opvattings of godsdiensgebruike van Jehovah se Getuies waarvan jy meer wil weet? Moet dan nie huiwer om daaroor te vra wanneer jy weer ’n Getuie teëkom nie. Hy of sy sal dit graag met jou bespreek.

Hier volg ’n tipiese gesprek tussen een van Jehovah se Getuies en ’n buurman. Kom ons stel ons voor dat ’n Getuie met die naam Marko besoek aflê by die huis van ’n man met die naam André.

Sal God goddelose mense straf?

Marko: Goed om jou weer te sien, André.

André: Dis ook goed om jou weer te sien.

Marko: Ek het oor iets gedink wat jy gesê het toe ek die vorige keer hier was.

André: Wat is dit?

Marko: Jy het gesê dat jy verbaas was om te hoor dat Jehovah se Getuies nie in die helse vuur glo nie.

André: Ja, dit het my verbaas. En ek moet sê, dis moeilik om te aanvaar dat julle nie daarin glo nie.

Marko: Ek is bly dat jy dit vir my sê. Dis altyd interessant om te hoor wat ander mense dink. Aangesien daar soveel uiteenlopende beskouings van die helse vuur is, gee jy om om vir my te verduidelik wat jy glo?

André: Wel, ek het nog altyd geglo dat mense wat baie sleg is hel toe gaan wanneer hulle sterf en dat hulle vir ewig daar gepynig word.

Marko: Dis ’n algemene beskouing. Sê vir my, André, het daar al slegte dinge in jou lewe gebeur?

André: Ja. My suster is vyf jaar gelede vermoor.

Marko: Ek is regtig jammer om dit te hoor. Jy mis haar seker baie.

André: Vreeslik baie. Ek dink elke dag aan haar.

Marko: Ek het gevind dat sommige mense sterk opinies oor die helse vuur het omdat hulle deur die dade van goddelose mense geraak is. Onskuldige slagoffers wil immers sien dat slegte mense gestraf word vir hulle dade.

André: Presies! Ek wil hê dat die man wat my suster vermoor het, moet boet vir wat hy aan ons familie gedoen het.

Marko: Dit is heeltemal normaal om so te voel. Die Bybel leer dat God ook toornig word wanneer onskuldige mense ’n onreg aangedoen word—en hy belowe dat hy goddelose mense sal straf. Kyk net wat Jesaja 3:11 sê: “Wee die goddelose!—Rampspoed; want die behandeling wat deur sy hande gegee is, sal aan hom gegee word!” Ons kan dus seker wees dat God goddelose mense sal straf.

André: Maar hoe kan dit gebeur as daar, soos jy sê, nie ’n helse vuur is nie?

Marko: Dis ’n goeie vraag. In ’n neutedop is die antwoord dat God goddelose mense met ewige vernietiging straf. Kyk wat sê die Bybel hier in 2 Tessalonisense 1:9. Kan jy die vers lees asseblief?

André: Sekerlik. Dit sê: “Húlle sal as regterlike straf ewige vernietiging ondergaan, weg van die aangesig van die Here.”

Marko: Kan jy sien, André, dat daar geen hoop is vir goddelose mense nie, want God straf hulle met ewige dood? Hulle het geen vooruitsig op lewe in die toekoms nie.

André: Ek sien wat die vers sê, maar dit klink net nie regverdig nie. Almal sterf. Verdien mense wat regtig sleg is, nie ’n swaarder straf nie?

Wat word deur geregtigheid vereis?

Marko: Ek kan sien dat geregtigheid belangrik is vir jou.

André: Absoluut.

Marko: Dit is prysenswaardig. Die feit is dat mense ’n sin vir reg en verkeerd het omdat God ons daarmee geskep het. Geregtigheid is ook vir hom baie belangrik. Maar wanneer godsdiensleiers leer dat God mense in ’n helse vuur straf, beeld hulle God in werklikheid as ’n baie onregverdige persoon uit.

André: Wat bedoel jy?

Marko: Wel, laat ek vir jou ’n voorbeeld wys. Ken jy die Bybelverslag van Adam en Eva?

André: Ja. God het vir hulle gesê om nie die vrug van ’n sekere boom te eet nie, maar hulle was ongehoorsaam.

Marko: Ja, dis reg. Kom ons kyk saam na die Bybelverslag. Dit is in Genesis 2:16, 17. Daardie verse sê: “Jehovah God het aan die mens ook hierdie bevel gegee: ‘Van al die bome van die tuin mag jy tot versadiging toe eet. Maar wat die boom van die kennis van goed en kwaad betref, daarvan mag jy nie eet nie, want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterf.’” Wat het God gesê sal gebeur as Adam van die verbode vrug eet?

André: Hy het gesê dat Adam sal sterf.

Marko: Dis reg. Dink net: Adam se sonde het daartoe gelei dat die hele mensdom as sondaars gebore word. * Maar het God, selfs in hierdie geval, enigsins melding gemaak van ’n helse vuur?

André: Nee.

Marko: Maar as die moontlikheid bestaan het dat Adam en Eva vir ewig gepynig sou word, moes God hulle tog sekerlik gewaarsku het, of hoe? Sou dit nie net regverdig en liefdevol gewees het nie?

André: Ja, ek reken so.

Marko: Dink ook aan wat God vir Adam en Eva gesê het nadat hulle gesondig het. Kan jy asseblief Genesis 3:19 lees?

André: Oukei. Dit sê: “In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy na die grond terugkeer, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy en tot stof sal jy terugkeer.”

Marko: Dankie. Wat sou volgens God se woorde met Adam gebeur?

André: Hy het gesê dat Adam na die stof van die aarde sou terugkeer.

Marko: Presies. Stem jy saam dat iemand slegs kan terugkeer na ’n plek as hy reeds daar was?

André: Natuurlik.

Marko: En waar was Adam voordat God hom geskep het?

André: Hy het nie bestaan nie.

Marko: Dis reg. En jy sal oplet dat daar geen melding van ’n helse vuur in God se oordeel is nie. Sou dit regverdig van God gewees het om vir Adam te sê dat hy sal terugkeer na die grond waaruit hy gemaak is as hy eintlik na ’n brandende hel sou gaan?

André: Nee, dit sou nie regverdig gewees het nie.

Voer die Duiwel God se wil uit?

Marko: Daar is nog iets wat ons in verband met die helse vuur in ag moet neem.

André: Wat is dit?

Marko: Wel, wie sê mense gewoonlik is “in beheer” van die helse vuur? Wie straf volgens baie mense diegene wat in die hel is?

André: Die Duiwel.

Marko: En tog is die Duiwel God se grootste vyand. As God mense na ’n brandende hel stuur om deur die Duiwel gepynig te word, sou dit dan nie beteken dat daar ’n mate van samewerking tussen God en die Duiwel is nie?

André: Hmm. Ek het nog nooit so daaraan gedink nie.

Marko: Ons kan dit soos volg illustreer—jy’s mos ’n pa, nè?

André: Ja, ek het ’n seun. Hy het onlangs 15 geword.

Marko: Stel jou voor dat jou seun baie opstandig word. Hy doen talle slegte dinge wat jou hartseer maak. Wat sou jy doen?

André: Ek sal hom probeer reghelp.

Marko: Ek is seker dat jy hom herhaaldelik sal probeer help om te verander.

André: Beslis.

Marko: Kom ons veronderstel dat hy, ten spyte van al jou pogings, alles wat jy vir hom sê, verwerp. Uiteindelik sal jy dalk voel dat jy geen ander keuse het as om hom op die een of ander manier te straf nie.

André: Ja, jy’s reg.

Marko: Maar sê nou jy vind uit dat ’n bose man jou seun beïnvloed en hom leer om al daardie slegte dinge te doen?

André: Ek sal kwaad wees vir daardie man.

Marko: Nou wil ek baie graag hoor wat jy dink. Sou jy, in die wete dat ’n goddelose, onsedelike man jou seun teen jou in opstand laat kom het, daardie man vra om jou seun namens jou te straf?

André: Natuurlik nie. Dit sou glad nie sin maak nie.

Marko: Maak dit dan sin dat God Satan die Duiwel—die einste persoon wat goddelose mense beïnvloed—sou vra om hierdie mense te straf?

André: Nee, seker nie.

Marko: Trouens, as God wil hê dat die goddeloses gestraf moet word, waarom sal die Duiwel—God se aartsvyand—God se wense uitvoer en hulle pynig?

André: Ek het nog nooit voorheen so daaraan gedink nie!

Jehovah sal alle goddeloosheid uit die weg ruim

Marko: Maar wees verseker dat God wel teen die verstokte goddeloses sal optree. Miskien kan ons een laaste teks lees wat hierdie punt beklemtoon. Dit is Psalm 37:9. Kan jy asseblief hierdie teks lees?

André: Oukei. Dit sê: “Die kwaaddoeners sal uitgeroei word, maar dié wat op Jehovah hoop, hulle sal die aarde besit.”

Marko: Dankie. Het jy opgelet wat Jehovah God met die kwaaddoeners sal doen?

André: Die vers sê dat God hulle sal uitroei.

Marko: Dis reg. Hy sal hulle dus vir ewig vernietig. Maar goeie mense—“dié wat op Jehovah hoop”—sal vir ewig hier op die aarde woon. Dit sal natuurlik vrae by jou laat ontstaan. Byvoorbeeld, waarom verhinder God mense nie uit die staanspoor om bose dinge te doen nie? En as hy werklik van voorneme is om goddelose mense te straf, waarom het hy dit nog nie gedoen nie?

André: Dit is interessante vrae.

Marko: Miskien kan ek jou die Bybel se antwoorde daarop wys wanneer ons weer gesels. *

André: Dit klink goed.

^ par. 79 Vir meer inligting, sien hoofstuk 11 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.