Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Akkurate wetenskap

Akkurate wetenskap

“Het ek nie tot nou toe met raad en kennis aan jou geskryf nie, om jou die waaragtigheid van ware woorde te toon, sodat jy woorde wat die waarheid is, kan terugbring?”—SPREUKE 22:20, 21.

HOE IS DIE BYBEL ANDERS? Eertydse boeke bevat dikwels misleidende en gevaarlike idees wat geheel en al deur die moderne wetenskap weerlê is. Selfs vandag moet skrywers handboeke in ooreenstemming met nuwe ontdekkings bywerk. Maar die Bybel sê dat die Skepper die Outeur daarvan is en dat sy Woord ‘vir ewig bly’.—1 Petrus 1:25.

’N VOORBEELD: Die Mosaïese Wet het die Israeliete beveel om hulle ontlasting “buite die kamp” te begrawe (Deuteronomium 23:12, 13). As die Israeliete aan die dooie liggaam van ’n dier of mens geraak het, moes hulle hulle met water was (Levitikus 11:27, 28; Numeri 19:14-16). Destyds is melaatses onder kwarantyn geplaas totdat ’n liggaamlike ondersoek bevestig het dat hulle nie meer aansteeklik is nie.—Levitikus 13:1-8.

WAT DIE MODERNE GENEESKUNDE SÊ: Behoorlike rioolverwydering, handewassery en kwarantyn is nog steeds doeltreffende maniere om siekte te voorkom. As daar geen toilette of ander sanitasiestelsels in die omgewing is nie, beveel die Amerikaanse Sentrums vir Siektebeheer (CDC) die volgende aan: “Jy moet jou ten minste 30 meter van enige waterbron ontlas en jou ontlasting dan begrawe.” Wanneer gemeenskappe op ’n veilige manier van ontlasting ontslae raak, verminder hulle, volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie, diarreale siektes met 36 persent. Minder as 200 jaar gelede het dokters besef dat hulle baie pasiënte besmet het omdat hulle nie hulle hande gewas het nadat hulle aan lyke geraak het nie. Die CDC noem handewassery nog steeds “die heel doeltreffendste manier om die oordrag van siektes te voorkom”. En wat van die gebruik om melaatses of diegene met ander siektes onder kwarantyn te plaas? Die Saudi Medical Journal het onlangs gesê: “In die beginstadium van ’n epidemie is afsondering en kwarantyn dalk die enigste en laaste uitweg om aansteeklike siektes doeltreffend te bekamp.”

WAT DINK JY? Sou jy verwag dat enige ander eertydse heilige boek met die moderne wetenskap ooreenstem? Of is die Bybel uniek?

“Niemand kan anders as om beïndruk te wees met die doeltreffende gesondheidsmaatreëls van die Mosaïese tydperk nie.”—MANUAL OF TROPICAL MEDICINE, DEUR DRS. ALDO CASTELLANI EN ALBERT J. CHALMERS