Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe om die impak van natuurrampe te verminder

Hoe om die impak van natuurrampe te verminder

Aangesien daar deesdae meer natuurrampe is en dit groter verwoesting saai, wat kan ’n mens doen om daarop voor te berei en dit die hoof te bied? Kom ons kyk na ’n paar praktiese maatreëls wat getref kan word.

Moet jou nie onnodig aan gevaar blootstel nie.

“Skerpsinnig is die een wat die rampspoed gesien en hom verberg het, maar die onervarenes het verder gegaan en moet die straf ondergaan”, sê die Bybel (Spreuke 22:3). Dit is wyse raad vir wanneer daar ’n ramp is. As ’n waarskuwing gegee word oor ’n dreigende vulkaniese uitbarsting, moontlike oorstromings of ’n naderende orkaan of tifoon, is dit verstandig om die gebied te ontruim en na veiligheid te vlug. Lewe is baie meer werd as ’n huis of ander materiële besittings.

Party kan kies om nie in ’n hoërisikogebied te woon nie. Een gesaghebbende sê: “Rampgevaar is geografies hoogs gekonsentreerd. Hoërisikogebiede beslaan slegs ’n baie klein deel van die aarde se oppervlak, en in die toekoms sal die meeste grootskaalse rampe in hierdie gebiede plaasvind.” Dit kan byvoorbeeld die geval wees in laagliggende kusgebiede of in gebiede naby verskuiwingslyne onder die aarde. As jy dit kan vermy om in sulke hoërisikogebiede te woon of na ’n veiliger gebied kan trek, kan jy die risiko dat jy ’n rampslagoffer sal wees, grootliks verminder.

Werk ’n aksieplan uit.

Ten spyte van enige voorsorgmaatreëls wat jy tref, sal jy dalk nog steeds die slagoffer van ’n onverwagse tragedie wees. Dit sal baie makliker wees om dit die hoof te bied as jy voorbereidings getref het. Dit is ook in ooreenstemming met die raad in Spreuke 22:3, wat vroeër aangehaal is. Het jy ’n noodtassie wat klaar gepak en gereed is? Die publikasie 1-2-3 of Disaster Education beveel aan dat jy die volgende items insluit: Noodhulpitems, gebottelde water, onbederfbare kos en belangrike dokumente. Dit sal ook verstandig wees om met jou gesin te praat oor die soorte rampe wat kan plaasvind en wat in elke geval gedoen kan word.

Het jy ’n noodtassie wat klaar gepak en gereed is?

Behou ’n hegte verhouding met God.

Dit kan ’n mens onder alle omstandighede help. Die Bybel praat van God as “die Vader van tere barmhartighede en die God van alle vertroosting, . . . wat ons in al ons verdrukking vertroos”. Nog ’n vers beskryf hom as die God “wat die terneergedruktes vertroos”.—2 Korintiërs 1:3, 4; 7:6.

Ja, God is deeglik bewus van die omstandighede waarmee diegene te kampe het wat geloof in hom stel. Hy is ’n God van liefde en voorsien opbouende aanmoediging op verskillende maniere (1 Johannes 4:8). Gebede vir God se kragtige heilige gees, nie vir wonderwerke nie, kan ons in enige situasie help. Die heilige gees kan diegene wat beproewinge ondervind, help om Bybelgedeeltes te herroep wat vertroostend en gerusstellend kan wees. God se getroue knegte kan waarlik voel soos Dawid, ’n koning van eertydse Israel, wat gesê het: “Al wandel ek in die vallei van diep skaduwee, vrees ek niks slegs nie, want u is met my; u stok en u staf dié vertroos my.”—Psalm 23:4.

Gebed vir die kragtige heilige gees, nie vir wonderwerke nie, kan ons in enige situasie help

Mede-Christene help mekaar.

In die eerste eeu het ’n Christenprofeet met die naam Agabus aangedui dat “daar weldra ’n groot hongersnood oor die hele bewoonde aarde sou kom; wat dan ook in die tyd van Claudius plaasgevind het”. Die hongersnood het baie van Jesus se dissipels in Judea erg geraak. Wat het die dissipels van ander plekke gedoen toe hulle hoor van hulle mede-Christene se nood? Die verslag sê: “Toe het die dissipels besluit om, elkeen volgens wat hy kon bekostig, iets vir noodleniging aan die broers te stuur wat in Judea woon” (Handelinge 11:28, 29). Hulle het liefdevol gereageer deur noodlenigingsvoorraad te voorsien.

“Ek het geliefd en beskermd gevoel”

Wanneer daar vandag ernstige rampe is, reageer God se knegte op ’n soortgelyke wyse. Jehovah se Getuies is welbekend daarvoor dat hulle medegelowiges help. Byvoorbeeld, toe ’n groot aardbewing Chili op 27 Februarie 2010 getref het, het Jehovah se Getuies die slagoffers te hulp gesnel. Karla, wie se huis deur ’n tsoenami weggespoel is, het vertel: “Dit was vertroostend en aanmoedigend om te sien dat [mede-Getuies] van ander gebiede reeds die volgende dag gekom het om ons te help. Jehovah het ons ongetwyfeld deur die goedheid van daardie vrywilligers vertroos. Ek het geliefd en beskermd gevoel.” Haar oupa, wat nie ’n Getuie is nie, het gesien hoe hulp verleen word. Hy het gesê: “Dit is heeltemal anders as wat ek al jare lank in my kerk sien gebeur.” Wat hy gesien het, het hom beweeg om Jehovah se Getuies te vra om die Bybel met hom te studeer.

Mede-Christene help mekaar om die gevolge van rampe die hoof te bied

Om deel te wees van ’n groep mense wat lief is vir God, kan ’n groot hulp wees gedurende tye van teëspoed. Maar sal daar ooit ’n tyd wees wanneer die aarde vry sal wees van die vloek van rampe? Kom ons kyk wat die Bybel oor hierdie onderwerp te sê het.