Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het God meegevoel met jou?

Het God meegevoel met jou?

WAT DIE SKEPPING ONS LEER

Meegevoel word beskryf as “die vermoë om jouself in iemand anders se skoene te sit en om jou voor te stel hoe daardie persoon voel of waardeur hy gaan”. Dr. Rick Hanson, ’n deskundige op die gebied van geestesgesondheid, sê dat “meegevoel deel is van wie ons is”.

DINK HIERAAN: Hoekom het ons die vermoë om meegevoel te toon, ’n eienskap wat ander lewende dinge nie het nie? Die Bybel verduidelik dat God die mens na sy beeld gemaak het (Genesis 1:26). Dit wil sê dat ons sy persoonlikheid kan weerspieël, en daarom kan ons tot ’n mate dieselfde eienskappe as hy betoon. Met ander woorde, wanneer liefdevolle mense deur meegevoel beweeg word om ander te help, weerspieël hulle die meegevoel van hulle Skepper, Jehovah God. — Spreuke 14:31.

WAT DIE BYBEL ONS LEER OOR GOD SE MEEGEVOEL

God het meegevoel met ons en hy haat dit om te sien dat ons swaarkry. Die Israeliete het wrede slawerny in Egipte en 40 moeilike jare in die woestyn deurgemaak. Die Bybel sê hieroor: “In al hulle benoudheid het dit vir hom benoudheid veroorsaak” (Jesaja 63:9). Let op dat God nie net hulle benoudheid gesien het nie. Hy kon hulle pyn voel. Hy het gesê: “Ek weet goed watter pyn hulle ly” (Eksodus 3:7). God sê: “Wie aan julle raak, raak aan my oogappel” (Sagaria 2:8). Wanneer ander ons seermaak, maak dit sy hart ook seer.

Die Bybel verseker ons dat ‘God groter as ons hart is en alles weet’ selfs al veroordeel ons onsself en voel ons dat ons nie God se meegevoel verdien nie (1 Johannes 3:19, 20). God ken ons beter as wat ons onsself ken. Hy is heeltemal bewus van ons omstandighede, gedagtes en gevoelens. En hy het meegevoel met ons.

Omdat ons weet dat God mense help wat deur moeilike tye gaan, kan ons na hom toe gaan vir vertroosting, wysheid en ondersteuning

Die Bybel verseker ons

  • “Dan sal jy roep, en Jehovah sal antwoord; jy sal om hulp roep, en hy sal sê: ‘Hier is ek!’” — JESAJA 58:9.

  • “‘Want ek weet goed watter gedagtes ek teenoor julle koester’, is die woord van Jehovah, ‘gedagtes van vrede en nie van rampspoed nie, om julle ’n toekoms en ’n hoop te gee. En julle sal my beslis aanroep en kom en tot my bid, en ek sal na julle luister.’” — JEREMIA 29:11, 12.

  • “Sit tog my trane in u leersak. Is hulle nie in u boek nie?” — PSALM 56:8.

GOD SIEN ONS RAAK, HY VERSTAAN ONS EN HET MEEGEVOEL MET ONS

Kan dit ons help om deur moeilike tye te kom as ons weet dat God meegevoel met ons het? Kom ons kyk na Maria se ondervinding:

“My 18-jarige seun is dood nadat hy twee jaar lank teen kanker geveg het. Dit het my verskriklike pyn veroorsaak, en ek het gedink dat die lewe moeilik en onregverdig is. Ek was kwaad vir Jehovah omdat hy niks gedoen het om hom gesond te maak nie!

“Ses jaar later het ’n liefdevolle vriendin in die gemeente na my geluister terwyl ek haar vertel het dat Jehovah nie lief is vir my nie. Nadat sy ure lank na my geluister het sonder om iets te sê, het sy 1 Johannes 3:19, 20 aangehaal wat my geraak het. Dit sê: ‘God is groter as ons hart en weet alles.’ Sy het verduidelik dat Jehovah verstaan hoe ons voel.

“Maar dit was nog steeds vir my moeilik om nie meer kwaad te wees nie! Toe het ek Psalm 94:19 gelees: ‘Toe my verontrustende gedagtes binne-in my baie geword het, het u vertroostinge my siel begin streel.’ Ek het gevoel asof die verse net vir my geskryf is! Ek het uiteindelik agtergekom dat dit my kalmeer om met Jehovah oor my probleme te praat omdat ek weet dat hy luister en verstaan.”

Hoe vertroos dit ons tog om te weet dat God ons verstaan en meegevoel met ons het! Maar hoekom is daar dan so baie swaarkry? Is dit omdat God ons straf vir iets wat ons verkeerd gedoen het? Sal God enigiets doen om ’n einde aan swaarkry te maak? Hierdie vrae sal in die volgende artikels bespreek word.