Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Word vertroos—Vertroos ander

Word vertroos—Vertroos ander

Aangesien ons onvolmaakte mense is, was ons almal al siek, party selfs ernstig siek. Hoe kan ons sulke probleme die hoof bied?

Iets waardevols wat ons kan help om dit die hoof te bied, is die vertroosting wat ons van ons familie, vriende en medegelowiges ontvang.

’n Vriend se liefdevolle woorde kan soos ’n strelende salf wees wat ons genees en verkwik (Spr. 16:24; 18:24; 25:11). Ware Christene wil egter nie net vertroosting ontvang nie. Hulle neem die inisiatief om “dié wat in enige soort verdrukking is, [te] vertroos deur die vertroosting waarmee [hulle self] deur God vertroos word” (2 Kor. 1:4; Luk. 6:31). Antonio, ’n streekopsiener in Mexiko, het dit self ondervind.

Toe Antonio met limfoom, ’n soort bloedkanker, gediagnoseer is, is hy deur angs oorweldig. Nietemin het hy sy negatiewe gevoelens probeer beheers. Hoe? Hy het probeer om Koninkryksliedere te memoriseer en te sing sodat hy die woorde kon hoor en daaroor kon peins. Om hardop te bid en die Bybel te lees, het hom ook baie vertroos.

Antonio besef egter nou dat sy medegelowiges een van sy grootste bronne van aanmoediging was. Hy sê: “Wanneer ek en my vrou die situasie oorweldigend gevind het, het ons ’n familielid wat ’n gemeentelike ouer man is, gevra om oor te kom en saam met ons te kom bid. Dit het ons vertroos en gekalmeer.” Hy sê verder: “Trouens, danksy die ondersteuning van ons familie en ons geestelike broers het ons die negatiewe gevoelens redelik gou oorkom”. Hoe dankbaar was hy tog om sulke liefdevolle vriende te hê wat vir hom omgee!

Nog iets wat ons gedurende tye van benoudheid kan help, is die beloofde heilige gees. Die apostel Petrus het gesê dat God se heilige gees ’n “vrye gawe” is (Hand. 2:38). Dit kon duidelik gesien word toe baie dissipels op Pinkster 33 HJ gesalf is. Die heilige gees is nietemin ’n gawe waarby ons ook kan baat vind. Daar is ’n eindelose hoeveelheid van hierdie gawe tot ons beskikking, en daarom kan ons vra om dit in oorvloed te ontvang.—Jes. 40:28-31.

TOON OPREGTE BELANGSTELLING IN DIEGENE WAT LY

Die apostel Paulus het talle ontberinge verduur en het by tye selfs die dood in die gesig gestaar (2 Kor. 1:8-10). Maar Paulus het nie ’n morbiede vrees vir die dood gehad nie. Dit het hom vertroos om te weet dat hy God se ondersteuning het. Hy het geskryf: “Mag die God en Vader van ons Here Jesus Christus, die Vader van tere barmhartighede en die God van alle vertroosting, geloof word, wat ons in al ons verdrukking vertroos” (2 Kor. 1:3, 4). Paulus het nie in selfbejammering verval nie. Die beproewinge wat hy verduur het, het hom eerder gehelp om meegevoel aan te kweek, en daarom was hy beter toegerus om ander in hulle tyd van nood te vertroos.

Nadat Antonio van sy siekte herstel het, kon hy weer die reisende werk doen. Hoewel hy voorheen in sy medegelowiges belangstelling getoon het, het hy en sy vrou daarna ’n spesiale poging aangewend om dié wat siek is, te besoek en aan te moedig. Nadat Antonio byvoorbeeld ’n Christen besoek het wat aan ’n ernstige siekte gely het, het hy uitgevind dat hierdie broer nie die vergaderinge wou bywoon nie. “Dit was nie dat hy sy liefde vir Jehovah of die broers verloor het nie”, verduidelik Antonio, “maar die siekte het so ’n groot uitwerking op sy emosies gehad dat hy nutteloos gevoel het.”

Een van die dinge wat Antonio gedoen het om die siek broer aan te moedig, was om hom te vra om by ’n geselligheid te bid. Hoewel die broer onbekwaam gevoel het, het hy ingestem. Antonio vertel: “Hy het só mooi gebid, en daarna was hy soos ’n ander mens. Hy het weer nuttig gevoel.”

Ja, in mindere of meerdere mate het ons almal al die een of ander soort lyding verduur. Maar soos Paulus gesê het, kan dit ons in staat stel om ander in hulle tyd van nood te vertroos. Laat ons dus empatie toon wanneer ons mede-Christene ly en ons God, Jehovah, navolg deur vir ander ’n bron van vertroosting te wees.