Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HULP VIR DIE GESIN | JONGMENSE

Opwindend—Maar is dit die moeite werd?

Opwindend—Maar is dit die moeite werd?

DIE UITDAGING

“Ek het naby vinnige treine in tonnels gestaan. Wanneer hulle verby my gejaag het, het die adrenalien wat deur my liggaam gepomp het my van my probleme laat vergeet.”—Leon. *

“Wanneer ek van ’n gevaarlike hoë rots in die water geduik het, het ek vir ’n paar sekondes heeltemal vry gevoel. Ek het dit gewoonlik geniet, maar partykeer was ek bang.”—Larissa.

Dit is vir baie jongmense, soos Leon en Larissa, opwindend om te kyk hoe ver hulle kan gaan, al is dit soms gevaarlik. Voel jy ook so? As dit die geval is, kan hierdie artikel jou help.

WAT JY MOET WEET

Die soeke na opwinding kan verslawend wees. Dit sal jou miskien vir ’n kort tydjie goed laat voel, maar daarna sal jy altyd groter opwinding soek. Soos Leon, het Marco ook daarvan gehou om in treintonnels te staan. Hy sê: “Dis ’n bose kringloop. Ek was vir ’n rukkie gelukkig, maar dan sou ek weer opwinding soek.”

Justin, wat baie vinnig op sy rolskaatse gery het deur aan bewegende karre vas te hou, sê: “Ek het so goed gevoel dat ek dit weer wou doen. Ek wou hê mense moet my raaksien, maar ek het in die hospitaal beland.”

Groepsdruk kan veroorsaak dat jy nie logies dink nie. ’n Jong man met die naam Marvin sê: “My vriende het druk op my gesit om teen ’n hoë gebou te vryklim. Hulle het gesê: ‘Komaan, jy kan dit doen.’ Ek het baie onseker gevoel. Ek het gebewe terwyl ek geklim het.” Larissa, wat vroeër genoem is, sê: “Ek het maar net gedoen wat al die ander gedoen het.”

Die Internet word ook gebruik om druk op jongmense te plaas deur kansvatters te prys en die gevare daarvan te verklein. Video’s van wat hierdie mense doen, word op sosiale media gesit en deur baie mense in ’n kort tydjie gesien. Kansvatters word dan raakgesien en kry baie aandag.

Party gewilde video’s wys byvoorbeeld hoe mense oor hindernisse kom (soos mure, huise en trappe) deur vinnig te hardloop en te spring sonder enige veiligheidstoerusting. Jy maak dan miskien die verkeerde gevolgtrekking: (1) dat dit nie baie gevaarlik is nie, en (2) dat almal dit doen. Die gevolg: Jy wil miskien iets probeer wat jou lewe in gevaar sal stel.

Daar is beter en veiliger maniere om jou perke te toets. Die Bybel sê: “Liggaamlike oefening het min voordeel” (1 Timoteus 4:8). Die Skrif spoor jou ook aan om met “gesonde verstand” te lewe (Titus 2:12). Hoe kan jy dit doen?

WAT JY KAN DOEN

Dink aan die gevare. Die Bybel sê: “Elke skerpsinnige sal met kennis optree, maar die sot sal dwaasheid versprei” (Spreuke 13:16). Voordat jy aan ’n aktiwiteit deelneem, vind eers uit watter gevare daarby betrokke is. Vra jou af: ‘Kan hierdie aktiwiteit my lewe in gevaar stel of ’n ernstige besering veroorsaak?’—Bybelwaarheid: Spreuke 14:15.

Kies vriende wat respek het vir die lewe. Ware vriende sal jou nie aanspoor om iets te doen wat jou lewe in gevaar sal stel nie. Hulle sal jou ook nie probeer oorreed om iets te doen wat jou ongemaklik sal laat voel nie. Larissa sê: “Ek het goeie en verantwoordelike vriende gekies wat my gehelp het om beter besluite te maak oor die aktiwiteite waaraan ek wou deelneem. Toe ek van vriende verander, het my lewe verander.”—Bybelwaarheid: Spreuke 13:20.

Vra jou af: ‘Kan hierdie aktiwiteit my lewe in gevaar stel of ’n ernstige besering veroorsaak?’

Geniet jou lewe sonder om dit in gevaar te stel. Deel van grootword is “om jou eie beginsels en perke te ken”, sê die boek Adolescent Risk Behaviors. Jy kan jou perke in ’n veilige omgewing toets deur die regte veiligheidstoerusting te gebruik en voorsorg te tref.

Kry ware selfrespek. Mense sal jou respekteer as jy uitdagings in die lewe wyslik hanteer, nie wanneer jy jou lewe in gevaar stel net vir opwinding nie. Larissa sê: “Om van hoë rotse af te duik was die begin van ’n periode in my lewe waar ek dinge gedoen het wat my kon seermaak. Dit sou beter gewees het as ek net geleer het om nee te sê.”

Die slotsom: In plaas daarvan om jou lewe onnodig in gevaar te stel, moet jy goeie besluite oor ontspanning maak.—Bybelwaarheid: Spreuke 15:24.

^ par. 4 Van die name in hierdie artikel is verander.