Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die gissel is verskriklik ingewikkeld. Dit het ’n goed georganiseerde kern met DNS en mikroskopiese masjiene wat molekules sorteer, vervoer en verander – dinge wat noodsaaklik is vir selle om aan die lewe te bly.

Wat lewe ons leer

Wat lewe ons leer

Alle lewende dinge om ons groei, beweeg en vermeerder. Dit maak ons planeet uniek en pragtig. En vandag weet die mens meer oor lewende dinge as ooit tevore. Wat leer lewe ons oor hoe dit begin het? Kyk na die volgende.

Dit lyk asof lewe ontwerp is. Daar word gesê dat selle die boustene van lewe is. Elke sel moet duisende ingewikkelde takies doen sodat lewende dinge aan die lewe kan bly en voortplant. Sulke ingewikkelde prosesse kan amper oral om ons gevind word. Kyk byvoorbeeld na gis wat gebruik word om brood te bak. Dit is ’n eensellige organisme. As dit met ’n mensesel vergelyk word, lyk gisselle dalk eenvoudig. Maar dit is verskriklik ingewikkeld. Gisselle het ’n goed georganiseerde kern met DNS. Dit is toegerus met mikroskopiese “masjiene” wat molekules sorteer, vervoer en verander – stappe wat noodsaaklik is vir hierdie organismes om aan die lewe te bly. Wanneer ’n gissel se kos opraak, begin dit ’n ingewikkelde chemiese proses wat veroorsaak dat die sel stadiger werk en onaktief word. Dit is hoekom gis vir ’n lang tyd in ’n kombuis gestoor kan word en dan weer aktief kan word wanneer dit gebruik word om brood te bak.

Wetenskaplikes studeer gisselle al baie jare lank om menseselle beter te verstaan. Maar hulle het nog baie om te leer. Ross King, ’n professor aan Chalmers-Universiteit vir Tegnologie in Swede, sê: “Daar is net nie genoeg bioloë beskikbaar om al die eksperimente te doen sodat ons kan verstaan hoe selfs gis werk nie.”

Wat dink jy? Bewys die verstommende ingewikkeldheid van die eenvoudige gissel dat dit ontwerp is? Dink jy dat dit sommer net vanself ontstaan het?

Lewe kan net ontstaan as gevolg van lewe. DNS bestaan uit molekules wat nukleotiede genoem word. Elke mensesel het 3,2 miljard nukleotiede. Hierdie samestellings word in ’n spesifieke patroon gerangskik sodat die sel ensieme en proteïene kan maak.

Die kans dat selfs die eenvoudigste string nukleotiede vanself in die regte patroon kan vorm, is volgens skatting 1 uit 10 tot die mag 150 (1 gevolg deur 150 nulle). So iets is feitlik onmoontlik.

Wetenskaplikes kon nog nooit bewys dat ’n lewende ding kan ontstaan uit iets wat nie lewe nie.

Menselewe is uniek. Ons as mense het die vermoë om die lewe te geniet op maniere wat ander spesies nie kan nie. Geen ander spesie kan soos mense kuns skep, gemeenskappe vorm of gevoelens uitdruk nie. Ons is bewus van en geniet verskillende smake, reuke, klanke, kleure en dinge wat ons kan sien. Ons beplan vir die toekoms en soek na die doel van die lewe.

Wat dink jy? Het hierdie vermoëns in ons geëvolueer omdat dit vir ons nodig was om te oorleef en voort te plant? Of bewys dit dat lewe ’n geskenk van ’n liefdevolle Skepper is?