Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DIE BYBEL SE BESKOUING

Engele

Engele

Engele kom baie in boeke, kunswerke en flieks voor. Maar wie is die engele en wat is hulle rol?

Wie is die engele?

WAT DIE BYBEL SÊ

 

Lank voordat die Almagtige God die fisiese heelal en die eerste mense gemaak het, het hy hoër wesens gemaak. Hulle is sterker as mense en woon in dieselfde ryk as God—’n onsigbare ryk waartoe die mensdom nie toegang het nie (Job 38:4, 7). Die Bybel noem hierdie hoër wesens “geeste” en “engele”.—Psalm 104:4. *

Hoeveel engele is daar? Baie! Daar is “tienduisende van tienduisende” engele rondom God se troon (Openbaring 5:11). As ons hierdie uitdrukking letterlik opneem, is daar honderdmiljoene engele!

“En ek het ’n stem van baie engele rondom die troon . . . gehoor, en hulle getal was tienduisende van tienduisende en duisende van duisende.”—Openbaring 5:11.

Wat het engele in Bybeltye gedoen?

WAT DIE BYBEL SÊ

 

God het engele baie keer as sy woordvoerders of boodskappers gebruik. * Die Bybel wys ook dat God hulle soms gebruik het om sy wonderwerke te verrig. God het ’n engel gestuur om Abraham te seën en om te keer dat hy sy seun Isak opoffer (Genesis 22:11-18). ’n Engel het in ’n brandende bos aan Moses verskyn om ’n boodskap oor te dra wat sy lewe sou verander (Eksodus 3:1, 2). Toe die profeet Daniël in ’n put vol leeus gegooi is, het God “sy engel gestuur en die bek van die leeus gesluit”.—Daniël 6:22.

“Toe het Jehovah se engel in ’n vuurvlam in ’n doringbos aan [Moses] verskyn.”—Eksodus 3:2.

Wat doen engele nou?

WAT DIE BYBEL SÊ

 

Ons kan nie presies sê wat die engele vandag alles doen nie. Maar die Bybel wys wel dat hulle ’n deel daaraan het om opregte mense te help om meer van God te leer.—Handelinge 8:26-35; 10:1-22; Openbaring 14:6, 7.

Jehovah het Jakob in Bybeltye ’n droom gegee waar hy engele gesien het wat ’n “leer” gebruik om op en af te klim tussen die hemel en die aarde (Genesis 28:10-12). Soos hierdie droom moontlik vir Jakob gehelp het, help dit ons ook om te sien dat Jehovah God engele met toewysings na die aarde stuur om getroue mense te help.—Genesis 24:40; Eksodus 14:19; Psalm 34:7.

“Daar was ’n leer wat op die aarde gestaan het en waarvan die top tot aan die hemel gereik het; en kyk! God se engele het daarmee op- en afgeklim.”—Genesis 28:12.

^ par. 6 Die Bybel wys dat sommige geeste teen God se gesag gerebelleer het en dit noem hierdie slegte engele “demone”.—Lukas 10:17-20.

^ par. 11 Die oorspronklike Hebreeuse en Griekse woorde wat in die Bybel vir “engel” gebruik word, beteken albei “boodskapper”.