Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Raad oor hoe om in vrede met ander te lewe

Raad oor hoe om in vrede met ander te lewe

Ons Skepper sê vir ons hoe ons in vrede met ander kan lewe, of dit nou by die huis, by die werk of met vriende is. Kyk na ’n paar voorbeelde van sy wyse raad wat baie mense al suksesvol toegepas het.

Wees gereed om ander te vergewe

“Hou aan om mekaar . . . vryelik te vergewe, selfs al het iemand ’n rede om oor iemand anders te kla.” – KOLOSSENSE 3:13.

Ons almal maak foute. Ons maak dalk ander seer, of hulle maak dalk vir ons seer. Wat ook al die geval is, ons almal moet ander vergewe en moet deur ander vergewe word. Wanneer ons vergewe, hou ons op om negatiewe gevoelens te hê teenoor die persoon wat vir ons seergemaak het. Ons herinner nie die persoon die heeltyd aan sy foute of swakhede nie. Ons moet ook nie “slegte dinge aan mense doen wanneer hulle slegte dinge aan [ons] doen nie” (Romeine 12:17). Maar wat as ons diep seergemaak is en nie kan ophou dink aan wat gebeur het nie? Dan moet ons respekvol en alleen met die persoon oor die saak praat. Ons doelwit moet wees om vrede te maak, nie om die argument te wen nie. – Romeine 12:18.

Wees nederig en respekvol

“Wees nederig en beskou ander as hoër as julleself.” – FILIPPENSE 2:3.

Wanneer ons nederig en respekvol is, geniet mense dit om saam met ons te wees. Hulle weet dat ons liefdevol en bedagsaam sal wees en dat ons nie hulle gevoelens opsetlik sal seermaak nie. Maar as ons onsself hoër as ander beskou of altyd daarop aandring om ons sin te kry, skep ons probleme en spanning. Mense sal ons vermy, en ons sal min of geen vriende hê nie.

Wees onpartydig

‘God is nie partydig nie. In elke nasie is die mens wat hom vrees en doen wat reg is, vir hom aanvaarbaar.’ – HANDELINGE 10:34, 35.

Ons Skepper dink nie dat party mense beter is as ander as gevolg van hulle nasionaliteit, taal, sosiale status of velkleur nie. “Hy het uit een mens elke nasie van die mensdom gemaak” (Handelinge 17:26). So dit beteken dat alle mense broers en susters is. Wanneer ons almal met waardigheid en liefde behandel, maak ons hulle gelukkig, is ons gelukkiger en maak ons ons Skepper gelukkig.

Wees saggeaard

“Betoon . . . sagmoedigheid.” – KOLOSSENSE 3:12.

Wanneer ons saggeaard is, laat ons ander op hulle gemak voel. Hulle voel gemaklik om met ons te praat en om ons selfs reg te help omdat hulle weet dat ons kalm sal bly. En wanneer iemand vir ons kwaad is, kan ons sagte antwoord die persoon kalmeer. Spreuke 15:1 sê: “’n Sagte antwoord laat woede bedaar, maar harde woorde laat woede opvlam.”

Wees vrygewig en dankbaar

“Dit maak ’n mens gelukkiger om te gee as om te ontvang.” – HANDELINGE 20:35.

Vandag is baie mense gierig, en hulle dink net aan hulleself. Maar mense wat vrygewig is, is regtig gelukkig (Lukas 6:38). Vrygewige mense is gelukkig omdat hulle liewer is vir mense as vir dinge. Daardie selfde liefde beweeg hulle om dankbaar te wees en om hulle waardering te wys wanneer iemand vrygewig is teenoor hulle (Kolossense 3:15). Vra jou af: ‘Hou ek daarvan om by mense te wees wat suinig en ondankbaar is of hou ek eerder daarvan om by mense te wees wat vrygewig en dankbaar is?’ Wat is die punt? Wees die soort persoon wat jy wil hê ander moet wees. – Matteus 7:12.