Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | TRAGIESE GEBEURTENISSE—HOE JY DIT KAN VERWERK

Verlies van ’n geliefde

Verlies van ’n geliefde

Ronaldo, in Brasilië, was in ’n motorongeluk waarin vyf van sy familielede, insluitende sy ma en pa, gesterf het. “Ek was twee maande in die hospitaal voordat daar vir my gesê is dat hulle in die ongeluk dood is”, sê hy.

“Ek kon eers nie glo dat hulle weg is nie. Hoe kan hulle almal dood wees? Toe ek besef dat dit waar is, was ek geskok. Ek het nog nooit soveel pyn ervaar nie. In die daaropvolgende dae het ek gevoel dat dit nie die moeite werd is om sonder hulle te lewe nie. Ek het maande lank elke dag gehuil! Ek het my verwyt omdat ek iemand anders die motor laat bestuur het. As ek maar net bestuur het, sou hulle dalk nog gelewe het.

“Sestien jaar het verbygegaan, en ek het aangegaan met my lewe. Maar hulle tragiese dood het ’n leemte in my hart gelaat wat nog nie gevul is nie.”

HOE OM DIE TRAGEDIE TE VERWERK

Treur oor jou verlies. Volgens die Bybel is daar “’n tyd om te huil” (Prediker 3:1, 4). Ronaldo sê: “Elke keer wanneer ek wou huil, het ek dit gedoen. Ek kon in elk geval nie my trane inhou nie, en ek het beter gevoel nadat ek gehuil het.” Mense treur natuurlik op verskillende maniere. As jy nie uiterlik aan jou droefheid uiting gee nie, beteken dit nie dat jy jou emosies onderdruk of dat jy jou moet dwing om te huil nie.

Moenie jou afsonder nie (Spreuke 18:1). “Ek het probeer om nie toe te gee aan die drang om ander te vermy nie”, sê Ronaldo. “Mense het my besoek, en ek het hulle verwelkom. Ek het ook my hart teenoor my vrou en hegte vriende uitgestort.”

Bly kalm as iemand iets sê wat jou seermaak. Dit kan uitdrukkings insluit soos “Dit is beter so”. Ronaldo vertel: “Party van die woorde wat bedoel was om my te vertroos, het die teenoorgestelde uitwerking gehad.” Moenie tob oor woorde wat seermaak nie, maar volg eerder die Bybel se wyse raad: “[Moenie] jou hart rig op al die woorde wat mense spreek nie.”—Prediker 7:21.

Leer die waarheid oor die toestand van die dooies. Ronaldo sê: “In Prediker 9:5 toon die Bybel dat die dooies nie ly nie, en hierdie wete gee my gemoedsrus. Die Bybel leer ook dat daar ’n opstanding sal wees en dat dié wat dood is, weer sal lewe. Dit is dus vir my asof die geliefdes wat ek aan die dood afgestaan het, op ’n lang reis is.”—Handelinge 24:15.

Het jy geweet? Die Bybel belowe ’n tyd wanneer God “die dood vir ewig [sal] verswelg”. *Jesaja 25:8.