Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

IS DIT ONTWERP?

Die langhoringsprinkaan se merkwaardige gehoor

Die langhoringsprinkaan se merkwaardige gehoor

’N LANGHORINGSPRINKAAN (Copiphora gorgonensis) wat in Suid-Amerika voorkom, het ore van minder as ’n millimeter lank, wat op ’n baie soortgelyke manier as die mens se ore werk. Die insek kan op ’n lang afstand ’n groot verskeidenheid frekwensies onderskei. Hy kan byvoorbeeld onderskei tussen die geluid van ’n ander langhoringsprinkaan en die ultrasoniese klank van ’n vlermuis wat jag.

LANGHORING- SPRINKAAN SE OOR

Dink hieraan: Die langhoringsprinkaan se ore is op sy twee voorbene. Soos met die mens se oor die geval is, kan die langhoringsprinkaan se oor klank opvang, dit verwerk en die frekwensie ontleed. Maar wetenskaplikes het ’n unieke orgaan binne die oor van hierdie insek ontdek—’n drukvaste holte vol vloeistof wat soos ’n lang ballon lyk. Hierdie orgaan, wat die klankblasie genoem word, werk soos die koglea van soogdiere, maar is baie kleiner. Die klankblasie is verantwoordelik vir die langhoringsprinkaan se merkwaardige gehoor.

Professor Daniel Robert, van die Universiteit van Bristol se Fakulteit van Biologiese Wetenskappe in die Verenigde Koninkryk, sê dat hierdie ontdekking ingenieurs sal help om “biologies geïnspireerde gehoortoestelle te ontwikkel wat kleiner en akkurater is as ooit tevore”. Navorsers meen dat dit ook sal bydra tot meer gevorderde ultrasoniese ingenieurstegnologie, insluitende beeldstelsels vir hospitale.

Wat dink jy? Het die merkwaardige gehoor van die langhoringsprinkaan deur middel van evolusie ontstaan? Of is dit ontwerp?