Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HULP VIR DIE GESIN | OUERSKAP

Hoe om woedebuie te hanteer

Hoe om woedebuie te hanteer

DIE UITDAGING

Wanneer jou tweejarige kwaad is, begin hy skreeu, sy voete stamp en wild in die lug slaan. Jy wonder: ‘Is my kind normaal? Het hy woedebuie omdat ék iets verkeerd doen? Sal hy ooit daarmee ophou?’

Jy kan jou tweejarige help om sy gedrag te verander. Maar kom ons kyk eers wat moontlik daartoe bydra. *

WAAROM DIT GEBEUR

Klein kindertjies het nie genoeg ondervinding om hulle emosies te beheers nie. Dit alleen kan af en toe tot ’n woedebui lei. Maar dit is nie al nie.

Dink aan die verandering wat ’n kind ondergaan wanneer hy omtrent twee jaar oud is. Van sy geboorte af het sy ouers alles vir hom gedoen. Byvoorbeeld, as hy gehuil het, het hulle dadelik gekom. ‘Is die baba siek? Is hy honger? Moet hy getroos word? Moet sy doek omgeruil word?’ Die ouers het alles in hulle vermoë gedoen om te help. En dit was gepas, want ’n baba is heeltemal afhanklik van sy ouers.

Maar wanneer ’n kind omtrent twee jaar oud is, begin hy besef dat sy ouers al hoe minder doen wat hy wil hê. Trouens, in plaas daarvan dat hulle doen wat hy wil hê, verwag hulle dat hy moet doen wat hulle wil hê. Die bordjies is verhang, en ’n tweejarige aanvaar die verandering dalk nie sonder verset nie—miskien in die vorm van ’n woedebui.

’n Kind raak gewoonlik mettertyd daaraan gewoond dat sy ouers sy onderrigters is, nie net sy versorgers nie. Hopelik begin hy ook besef dat sy rol behels dat hy “aan [sy] ouers gehoorsaam” moet wees (Kolossense 3:20). Intussen beproef ’n kind dalk sy ouers se geduld tot die uiterste met die een woedebui ná die ander.

 WAT JY KAN DOEN

Toon begrip. Jou kind is nie ’n klein volwassene nie. Omdat hy nie genoeg ondervinding het om sy emosies te beheers nie, sal hy dalk oorreageer wanneer hy kwaad is. Probeer die situasie uit sy oogpunt beskou.—Bybelbeginsel: 1 Korintiërs 13:11.

Bly kalm. Wanneer jou kind ’n woedebui het, sal dit nie help as jy jou humeur verloor nie. Ignoreer die woedebui sover moontlik en beheers jou emosies. As jy onthou waarom ’n kind woedebuie het, sal dit jou help om kalm te bly.—Bybelbeginsel: Spreuke 19:11.

Bly by wat jy sê. As jy aan al jou kind se eise voldoen, sal hy waarskynlik ’n woedebui hê elke keer as hy sy sin wil kry. Wys kalm vir jou kind dat jy bedoel wat jy sê.—Bybelbeginsel: Matteus 5:37.

As jy onthou waarom ’n kind woedebuie het, sal dit jou help om kalm te bly

Wees geduldig. Moenie verwag dat woedebuie oornag sal verdwyn nie, veral nie as jy jou kind rede gegee het om te glo dat sy gedrag jou van gedagte sal laat verander nie. As jy egter gepas en konsekwent optree, sal die woedebuie waarskynlik minder word. Uiteindelik sal dit heeltemal ophou. Die Bybel sê: “Die liefde is lankmoedig.”—1 Korintiërs 13:4.

Jy kan ook die volgende probeer:

  • Wanneer die woedebui begin, moet jy jou kind (indien moontlik) teen jou vashou en, sonder om hom seer te maak, keer dat hy skop en wild in die lug slaan. Moenie op jou kind skreeu nie. Wag bloot totdat die storm oorgewaai het. Jou kind sal uiteindelik besef dat hy niks met sy woedebui bereik het nie.

  • Besluit waar jy jou kind kan sit wanneer hy ’n woedebui het. Sê vir hom dat hy kan uitkom wanneer hy gekalmeer het, en los hom dan daar.

  • As jou kind in die openbaar ’n woedebui het, moet jy hom na ’n plek neem waar ander hom nie kan sien nie. Moenie toegee net omdat hy ’n bohaai opskop nie. Dít sal jou kind net die indruk gee dat hy altyd sy sin sal kry as hy ’n woedebui het.

^ par. 5 Hoewel ons in hierdie artikel na die kind as manlik verwys, is die beginsels wat bespreek word, op albei geslagte van toepassing.