Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

IS DIT ONTWERP?

Die vin van die boggelwalvis

Die vin van die boggelwalvis

DIE volwasse boggelwalvis is groter en swaarder as ’n gelaaide vragmotor. Tog is hierdie yslike soogdier besonder beweeglik wanneer hy duik en draai. Waarom is die boggelwalvis so beweeglik? Die knoppe op sy vinne maak deel van die geheim uit.

Dink hieraan: Die meeste walvisse en ander walvisagtiges het vinne met ’n gladde voorrand. Maar die boggelwalvis is anders. Hy het unieke groot knoppe (wat tuberkels genoem word) aan die voorrand van sy vinne. Terwyl die boggelwalvis swem, vloei water oor die knoppe en word dit in ’n magdom draaikolke verdeel. Die knoppe stuur die water in ’n sekere rigting en skep turbulensie. Hierdie “tuberkel-effek” gee die walvis meer hefkrag en maak dit vir hom moontlik om sy vinne teen ’n skerp hoek te draai sonder om tot stilstand te kom. Wanneer die vinne teen ’n skerp hoek gehou word, verminder hierdie knoppe ook weerstand—’n belangrike voordeel omdat elkeen van die boggelwalvis se vinne omtrent so lank is soos ’n derde van sy liggaam.

Navorsers gebruik hierdie idee om doeltreffender skeepsroere, waterturbines, windmeule en rotorlemme vir helikopters te maak.

Wat dink jy? Het die vin van die boggelwalvis deur middel van evolusie ontstaan? Of is dit ontwerp?