Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Bybel—’n Boek van akkurate profesie—Deel 7

‘Die einde sal kom’

Die Bybel—’n Boek van akkurate profesie—Deel 7

In hierdie reeks van agt dele bespreek “Ontwaak!” ’n uitsonderlike kenmerk van die Bybel—die profesieë, of voorspellings, daarin. Die artikels sal jou help om die volgende vrae te beantwoord: Is Bybelprofesieë bloot die werk van slim mense? Of is daar rede om te glo dat dit deur God geïnspireer is? Ons nooi jou om die bewyse te ondersoek.

MAAK dit jou kwaad wanneer korrupte regerings hulle burgers onderdruk en uitbuit? Druis dit teen jou sin van geregtigheid in wanneer groot nywerhede die rykes selfs ryker maak ten koste van die armes? Ontstel dit jou wanneer godsdiensleiers hulle kuddes melk of blatante leuens leer? Indien wel, sal jy moontlik bly wees om uit te vind dat die Bybel hierdie euwels veroordeel. In hierdie artikel sal ons die volgende ondersoek: (1) Bybelprofesieë wat die einde van alle goddeloosheid en goddelose mense voorspel en (2) die rede waarom ons ons volle vertroue in hierdie profesieë kan stel.

Die einde van goddeloosheid

Die vorige artikel in hierdie reeks het die saamgestelde teken bespreek wat Jesus gegee het, wat daarop dui dat die einde van die teenswoordige wêreld naby is. Deel van hierdie teken is die wêreldwye verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk—God se regering wat binnekort oor die hele aarde sal regeer (Daniël 2:44; Matteus 24:3, 14). Wanneer hierdie verkondigingswerk voltooi is, “sal die einde kom”, het Jesus gesê. Jy sal dalk verbaas wees om uit te vind dat God valse godsdiens, wat hom verkeerd voorstel, eerste sal verwyder. In die Bybel word valse godsdiens uitgebeeld as ’n hoer genaamd “Babilon die Grote”.—Openbaring 17:1, 5.

Profesie 1:

“[Babilon die Grote se] plae [sal] kom: dood en verdriet en hongersnood, en sy sal heeltemal met vuur verbrand word, want Jehovah God, wat haar geoordeel het, is sterk.”—Openbaring 18:2, 8.

Vervulling: Die Bybel toon dat God die wêreld se politieke magte op Sy vasgestelde tyd sal beweeg om teen Babilon die Grote te draai en haar te vernietig. Hulle sal “haar verwoes en naak maak” en “haar vlesige dele opeet” (Openbaring 17:16). Met ander woorde, hulle sal haar skandelike karakter blootlê en haar ontsaglike rykdom plunder. Haar vernietiging sal vinnig plaasvind en so volkome wees dat daar absoluut niks van haar sal oorbly nie.—Openbaring 18:21.

Die politieke heersers sal moontlik dink dat dit hulle idee was om haar te vernietig. Maar die vervulling van hierdie verstommende profesie sal bevestig dat Babilon se vernietiging ’n daad van God was. Hy sal dit “in hulle harte [sit] om sy gedagte uit te voer”.—Openbaring 17:17.

Profesie 2:

“In die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk oprig. . . . Dit sal al hierdie [mensgemaakte] koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, en self sal dit tot onbepaalde tye bly staan.”—Daniël 2:44.

Vervulling: Nadat God valse godsdiens uit die weg geruim het, sal hy sy aandag rig op ander organisasies—politieke en kommersiële organisasies—asook op goddelose mense (Spreuke 2:22; Openbaring 19:17, 18). Soos ’n huiseienaar wat vernielsugtige huurders uit sy huis sit, sal God “die verderwers van die aarde . . . verderf”. Hy sal diegene vernietig wat die aarde met geweld en seksueel verlagende gebruike vul.—Openbaring 11:18; Romeine 1:18, 26-29.

Wie sal die oorlewendes wees? Die Bybel antwoord: “Die sagmoediges sal die aarde besit, en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede.”—Psalm 37:11; 72:7.

Kan ons Bybelprofesieë vertrou? Kan ons seker wees dat God ’n einde aan goddeloosheid en lyding sal maak en die regverdiges sal bewaar? Ja!

Bybelprofesieë is betroubaar

God se Koninkryk sal ’n einde maak aan alle valse godsdiens, korrupte regerings en die gierige kommersiële wêreld

Jehovah se Getuies glo dat Jehovah God die Outeur van die Bybel is en dat hy alles sal doen wat hy belowe het (2 Timoteus 3:16). Is dit redelik om geloof hierin te stel?

As jy ’n lewenslange vriend het wat jou werklik liefhet en nog nooit vir jou gelieg het nie, sou jy hom glo as hy belowe om iets goeds vir jou te doen en as hy die vermoë het om sy belofte na te kom? Natuurlik sou jy. God is selfs beter as enige menslike vriend wat ons dalk het. “God vertel nooit ’n leuen nie!”—Titus 1:2, Contemporary English Version.

God keur nie blinde geloof, of liggelowigheid, goed nie. Daarom het hy die Bybelskrywers geïnspireer om talle profesieë op te teken wat net hy, die Almagtige, kan vervul. ’n Paar van hierdie profesieë en die verbasende vervulling daarvan is in die eerste ses dele van hierdie reeks artikels bespreek. Ons kan dus vol vertroue wees dat God die profesieë wat met ons toekoms verband hou, insluitende dié wat in hierdie artikel genoem word, sal verwesenlik.

Ja, die Skepper sal ’n einde maak aan valse godsdiens, onderdrukkende heerskappy en die gierige kommersiële wêreld. Sal jy graag meer wil leer oor wat daarna sal gebeur? Die volgende Ontwaak! sal jou help. Dit sal die laaste artikel van hierdie reeks bevat.