Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Beter gesondheid is binne jou bereik

Beter gesondheid is binne jou bereik

Rustam

RUSTAM, wat in Rusland woon, lei ’n besige lewe. In die verlede het hy ongesonde gewoontes gehad, maar hy het later besef dat hy ’n prys daarvoor betaal. Hy het opgehou om te rook en te veel te drink. Maar die lang ure wat hy elke dag voor sy rekenaar deurgebring het, het hom lusteloos laat voel.

Hoewel Rustam agtuur in die oggend begin werk het, het hy selde voor tienuur heeltemal wakker gevoel, en hy was dikwels siek. Daarom het hy sy roetine verander. Die gevolg? “Die afgelope sewe jaar het ek nie meer as twee dae siekteverlof per jaar geneem nie”, vertel hy. “Ek voel fantasties—op en wakker—en ek geniet die lewe!”

Ram, sy vrou en hulle twee klein kindertjies woon in Nepal. Daar is nie voldoende sanitasie waar hulle woon nie, en daar is baie muskiete en vlieë. In die verlede het Ram en sy gesin dikwels asemhalingsprobleme ondervind en ooginfeksies gekry. Ook hulle het veranderinge aangebring wat hulle gesondheid grootliks verbeter het.

Verkry beheer oor jou gesondheid!

Hetsy ryk of arm, baie mense besef nie dat daar ’n verband is tussen hulle gewoontes en hulle gesondheid nie. Hulle meen dalk dat goeie gesondheid iets is wat ’n mens bloot toevallig geniet of waaroor ’n mens min beheer het. So ’n fatalistiese beskouing weerhou baie mense daarvan om hulle gesondheid te verbeter of ’n produktiewer lewe te lei.

In werklikheid kan jy, ongeag jou finansiële situasie, basiese stappe volg om jou en jou gesin se gesondheid te beskerm en dit grootliks te verbeter. Sal dit die moeite werd wees? Ja, beslis! Jy kan jou lewensgehalte verbeter en voorkom dat jy jou lewe onnodig verkort.

Ram en sy gesin gaan haal skoon drinkwater

Ouers kan, deur hulle woorde en voorbeeld, vir hulle kinders leer om goeie gewoontes aan te kweek, wat hulle gesondheid sal verbeter. Dit verg wel ekstra tyd en onkoste, maar dit lei tot voordele soos minder lyding, minder verlore tyd weens siekte en minder geld wat aan mediese rekeninge bestee word. Voorsorg voorkom nasorg, soos die spreekwoord sê.

In die volgende artikels sal ons vyf basiese sleutels bespreek wat Rustam, Ram en baie ander gehelp het. Hierdie sleutels kan jou ook help!