Die eerste brief aan die Korintiërs 3:1-23

  • Korintiërs nog steeds vleeslik (1-4)

  • God laat dit groei (5-9)

    • Medewerkers van God (9)

  • Bou met vuurvaste materiaal (10-15)

  • Julle is God se tempel (16, 17)

  • Wêreldse wysheid is dwaasheid by God (18-23)

3  Broers, ek kon dus nie met julle praat soos met geestelike mense nie,+ maar ek praat met julle soos met vleeslike mense, soos met klein kindertjies+ in Christus.  Ek het vir julle melk gegee, nie vaste voedsel nie, want julle was nog nie sterk genoeg nie. Om die waarheid te sê, selfs nou is julle nie sterk genoeg nie,+  want julle is nog steeds vleeslik.+ Daar is jaloesie en stryery onder julle. Bewys dit dan nie dat julle vleeslik is+ en dat julle julle soos mense gedra nie?  Want julle gedra julle soos blote mense wanneer die een sê: “Ek behoort aan Paulus,” maar ’n ander een sê: “Ek behoort aan Apolʹlos.”+  Wat is Apolʹlos dan? Ja, wat is Paulus? Bedienaars+ wat die werk doen wat die Here aan elkeen gegee het en deur wie julle gelowiges geword het.  Ek het geplant,+ Apolʹlos het natgegooi,+ maar God laat dit groei.  Die een wat plant en die een wat natgooi, verdien dus nie die eer nie, maar eerder God wat dit laat groei.+  Die een wat plant en die een wat natgooi, het dieselfde doelwit,* maar elkeen sal sy eie beloning ontvang volgens sy eie werk.+  Want ons is God se medewerkers. Julle is God se saailand wat bewerk word, God se gebou.+ 10  Volgens die onverdiende goedheid wat God aan my gegee het, het ek as ’n vaardige meesterbouer ’n fondament gelê,+ maar iemand anders bou daarop. Elkeen moet dus bly aandag skenk aan hoe hy daarop bou. 11  Want niemand kan enige ander fondament lê as wat reeds gelê is nie, dit is Jesus Christus.+ 12  As iemand dan nou op die fondament met goud, silwer, kosbare stene, hout, hooi of strooi bou, 13  sal elkeen se bouwerk duidelik gemaak word, want die dag sal dit duidelik maak. Dit sal deur middel van vuur geopenbaar word,+ en die vuur sal wys van watter gehalte elkeen se bouwerk is. 14  As iemand se bouwerk bly staan, sal hy ’n beloning ontvang. 15  As iemand se bouwerk afbrand, sal hy verlies ly, maar hy sal gered word, en selfs dan sal dit wees asof hy uit ’n vuur gered is. 16  Weet julle nie dat julle God se tempel+ is en dat die gees van God in julle woon nie?+ 17  As iemand die tempel van God vernietig, sal God hom vernietig, want die tempel van God is heilig, en julle is daardie tempel.+ 18  Laat niemand homself bedrieg nie: As een van julle dink dat hy wys is in hierdie wêreld,* laat hom ’n dwaas word, sodat hy wys kan word. 19  Die wysheid van hierdie wêreld is dwaasheid by God, want daar is geskryf: “Hy vang die wyses met hulle eie slinkse planne.”+ 20  En ook: “Jehovah* weet dat die redenasies van die wyses niks beteken nie.”+ 21  Laat niemand dus oor mense spog nie, want alles behoort aan julle, 22  of dit nou Paulus of Apolʹlos of Sefas* is,+ of die wêreld of die lewe of die dood of dinge wat nou gebeur of dinge wat nog gaan gebeur, alles behoort aan julle, 23  maar julle behoort aan Christus,+ en Christus behoort aan God.

Voetnote

Lett. “is een”.
Of “stelsel van dinge”. Sien Woordelys.
D.w.s. Petrus.