Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Engeland: Broers en susters verwelkom afgevaardigdes by die internasionale byeenkoms

AARDWYE PREDIKINGS- EN ONDERRIGTINGSWERK

Europa

Europa
  • LANDE 47

  • BEVOLKING 743 421 605

  • VERKONDIGERS 1 614 244

  • BYBELSTUDIES 842 091

’n Misverstand lei tot ’n Bybelstudie

Die internasionale byeenkoms wat in Londen, Engeland, gehou is, was vir besoekende afgevaardigdes sowel as plaaslike Getuies ’n opwindende gebeurtenis. Andrew en Elizabeth het ’n Londense hotel besoek om party van die internasionale afgevaardigdes te ontmoet. Elizabeth het ’n netjies geklede vrou in die voorportaal gesien en omdat sy aangeneem het dat die vrou ’n afgevaardigde was, het Elizabeth haar vriendelik gegroet en omhels. Die vrou was verbaas, en daarom het Elizabeth om verskoning gevra. “Ek is jammer”, het sy gesê. “Ek het gedink jy is ’n afgevaardigde!”

“’n Afgevaardigde vir wat?” het die vrou gevra.

Elizabeth het gewys na ’n teken op die ontvangstoonbank wat Jehovah se Getuies verwelkom en was aangenaam verras deur die vrou se reaksie. “Dis wonderlik!” het sy gesê. “Lyk ek soos een?”

Terwyl hulle gesels het, het Elizabeth uitgevind dat die vrou se naam Vivien is, dat sy oorspronklik van Nigerië is en dat sy en Elizabeth net om die draai van mekaar af woon. Vivien het ’n Bybelstudie aanvaar en wou hê dat haar kinders ook moet studeer. Andrew en Elizabeth het Vivien by die huis besoek en nou was dit hulle beurt om vriendelik gegroet en omhels te word. Hulle toevallige ontmoeting in Londen het duidelik ’n positiewe indruk op Vivien gehad. Toe Andrew en Elizabeth die Leer Bybel-boek vir Vivien wys, was hulle verbaas toe sy vir hulle sê dat sy reeds die boek het en dat sy dit saam met vier van haar kinders lees. Nadat hulle vir haar gesê het dat dit die boek is wat hulle gebruik om ’n gratis tuisbybelstudie te hou, het Vivien opgewonde gesê: “Kom ons begin sommer nou!”

’n Brief van ’n Roma-broer

Die eerste Romani-gemeente in Slowakye is in November 2014 gestig. Een-en-twintig Romani-sprekende verkondigers is by ’n onlangse kringbyeenkoms gedoop. Hulle het almal uit dieselfde dorpie gekom. Daar was 495 by die Romani-gemeente se Gedenkmaal teenwoordig. ’n Pasgedoopte broer het die volgende geskryf:

Slowakye: Twee Koninkryksverkondigers vertel ’n Roma-vrou van die goeie nuus

“Ek is ’n Roma wat van Žehra, Slowakye, kom. Waar ek woon, beskou talle witmense ons as Sigeuners en hulle dink dat ons vuil is en leuens vertel en steel. Toe ek kerk toe wou gaan, het die opsigter vir my gesê dat ek nie daar hoort nie en dat ek moet loop. Jy kan jou voorstel hoe ek as gevolg van sulke ondervindinge oor witmense gevoel het. Toe het Jehovah se Getuies my na die Koninkryksaal genooi. Ek was baie agterdogtig en het verwag dat ek weer teleurgestel sou word. Ek was verbaas toe ’n witman, selfs voordat ek by die Koninkryksaal ingegaan het, my hand geskud en my hartlik verwelkom het. Ek kon nie tydens die openbare toespraak aandag skenk nie. Al waaraan ek kon dink was: ‘Hoe is dit moontlik dat almal so vriendelik is met my?’

“Daardie aand kon ek glad nie slaap nie omdat ek heeltyd gedink het aan wat by die Koninkryksaal gebeur het. Ek het dus besluit om weer te gaan om uit te vind of die mense daar net toevallig vriendelik was teenoor my. Hierdie keer was hulle selfs vriendeliker en het hulle my soos ’n ou vriend behandel. Van toe af het ek al die vergaderinge bygewoon, en ek is uiteindelik gedoop. Nadat ek gedoop is, het die broers nie opgehou om goedhartig teenoor my te wees nie, en hulle gaan voort om te toon dat hulle my waardeer. Soms gee hulle my selfs beter kos as wat hulle self eet! Ek wil altyd deel van hierdie organisasie wees, en Jehovah is die God wat ek vir ewig wil dien.”

’n Gebed om die goeie nuus te verkondig, word verhoor

’n Suster met die naam Aysel het per bus van die dorp Ganja na Bakoe, Azerbeidjan, gereis. Sy het tot Jehovah gebid en haar begeerte uitgespreek om op pad met iemand oor die Bybel te gesels. Hoewel Aysel reeds ’n toegewese sitplek op die bus gehad het, het ’n vrou daarop aangedring dat Aysel eerder langs haar moet sit. Aysel het met die vrou begin gesels en kon uiteindelik die gesprek in die rigting van die Bybel stuur. Die vrou het verduidelik dat sy Jesus liefhet en meer oor hom wil weet. Aysel en die vrou het hulle telefoonnommers vir mekaar gegee en afgespreek om weer te ontmoet. Die vrou het Aysel gevra om vir haar ’n Bybel te bring as sy kon.

Nadat Aysel na Ganja teruggekeer het, het sy die belangstellende vrou by haar werk besoek. Die vrou het gesê dat sy ’n “gebedeboek” het waaruit sy elke dag lees. Ons suster was verbaas toe sy uitvind dat die sogenaamde gebedeboek eintlik die boekie Ondersoek die Skrif elke dag vir 2013 was! ’n Bybelstudie is begin, en Aysel is so bly dat Jehovah haar die moed gegee het om informeel te getuig.

’n Brief van dank van ’n gevangene

Die volgende brief kom uit Spanje:

“Eerstens wil ek julle bedank vir die moeite wat julle doen om alle soorte mense met die Bybel se boodskap te bereik.

“Ek het 15 jaar gelede in Tirana, Albanië, vir die eerste keer kontak gehad met Jehovah se Getuies. Ek was verbaas dat ’n Getuie die moed gehad het om met ons te praat, aangesien ons ’n bende van tien jongmense was. Niemand het dit gewaag om met ons te praat nie, maar hierdie broer het dit gedoen ondanks ons wapens. Hy het vreesloos met ons oor die Bybel gepraat. Sy moed het my baie beïndruk.

“Vier jaar gelede het ’n Getuie my hier in Spanje in die tronk besoek en vir my ’n Bybelstudie aangebied. Ek het ingestem en sedertdien het ek ten goede verander. Ek is nie meer ’n gewelddadige, aggressiewe man nie. Ek was jare laas in die moeilikheid. Ek het Jehovah leer ken, en dit het my lewe betekenisvol gemaak. Ek probeer in vrede met die mense rondom my lewe en ek is al meer as ’n jaar ’n ongedoopte verkondiger.

“Hoewel ek al twaalf jaar lank in die tronk is, het ek die afgelope vier jaar geluk en gemoedsrus ervaar soos nog nooit tevore nie. Ek dank Jehovah elke dag hiervoor.

“’n Paar weke gelede het ek na van die video’s op jw.org gekyk. Die video van ’n broer wat in die tronk in die Verenigde State was, het my diep geraak. Ek is nie ’n emosionele mens nie, maar toe ek sien watter veranderinge hy in sy lewe gemaak het, kon ek die trane nie keer nie.

“Mag Jehovah voortgaan om julle pogings te seën om alle soorte mense te bereik deur die goeie nuus in soveel tale te vertaal en om mense in die tronk te besoek.

“Baie, baie dankie.”

“Ek het uiteindelik gemoedsrus gevind”

“Dit het altyd gevoel asof my lewe leeg en betekenisloos is, en ek het gesmag na gemoedsrus, maar dit het gevoel asof dit my bly ontwyk”, sê die 68-jarige Felicity, wat in Swede woon. Sy was nie tevrede met haar Katolieke opvattings nie en daarom het sy ’n wye verskeidenheid godsdiensidees begin ondersoek, en sy het uiteindelik diep betrokke geraak by towery en waarsêery.

Sy het steeds nie ’n ware doel in die lewe gevind nie en het so moedeloos geword dat sy dit oorweeg het om selfmoord te pleeg. “Met trane wat oor my wange gestroom het, het ek hard tot God uitgeroep en hom gevra om vir my te sê wat hy wil hê ek moet doen. Twee weke later was daar ’n sagte klop aan my deur. ’n Glimlaggende jong man het my gevra of ek daarin belangstel om na God se Woord te luister. Ek het gedink: ‘Ag nee God, dit is nie wat ek bedoel het nie—nie Jehovah se Getuies nie!’”

Hoewel dit haar onmiddellike reaksie was om die deur toe te maak, het sy besluit om te luister en het sy ’n Bybelstudie uit die Leer Bybel-boek aanvaar. “Ek het met nuwe oë na die Bybel gekyk”, sê sy. Felicity is in 2014 by ’n streekbyeenkoms in Swede gedoop. Nou sê sy: “Dit is waarna ek my hele lewe lank gesoek het. Ek het uiteindelik gemoedsrus gevind.”