Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VERHAAL 25

Die gesin trek na Egipte

Die gesin trek na Egipte

JOSEF kan sy gevoelens nie langer inhou nie. Hy sê dat al sy knegte uit die kamer moet uitgaan. Wanneer hy alleen saam met sy broers is, begin Josef huil. Ons kan ons voorstel hoe verbaas sy broers is, want hulle weet nie hoekom hy huil nie. Eindelik sê hy: ‘Ek is Josef. Lewe my pa nog?’

Sy broers is so verbaas dat hulle nie kan praat nie. Hulle is bang. Maar Josef sê: ‘Kom asseblief nader.’ Wanneer hulle dit doen, sê hy: ‘Ek is julle broer Josef, vir wie julle na Egipte verkoop het.’

Josef bly vriendelik en sê: ‘Moenie julleself blameer omdat julle my hierheen verkoop het nie. Dit was eintlik God wat my na Egipte toe gestuur het om mense se lewens te red. Farao het my as heerser oor die hele land aangestel. Gaan nou gou terug na my pa toe en vertel dit vir hom. En sê vir hom om hier te kom woon.’

Dan omhels Josef sy broers en soen hulle almal. Wanneer Farao hoor dat Josef se broers gekom het, sê hy vir Josef: ‘Laat hulle waens neem en hulle pa en hulle gesinne hierheen bring. Ek sal vir hulle die beste deel van die hele Egipteland gee.’

Dit is toe wat hulle gedoen het. Hier kan jy sien hoe Josef sy pa groet toe hy met sy hele gesin in Egipte aangekom het.

Jakob se gesin het baie groot geword. Daar was altesaam 70 toe hulle na Egipte toe getrek het, as ons Jakob en sy kinders en kleinkinders tel. Maar daar was ook die vrouens, en heel moontlik baie knegte. Hulle almal het in Egipte begin woon. Hulle is Israeliete genoem, want God het Jakob se naam na Israel verander. Die Israeliete het vir God ’n baie spesiale volk geword, soos ons later sal sien.