Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VRAAG 5

Is dit redelik om die Bybel te glo?

Is dit redelik om die Bybel te glo?

Was jy al ooit verkeerd oor ’n persoon? Miskien het jy ander oor hom hoor praat of hom hoor aanhaal. Jy het verwag dat jy nie van hom sal hou nie, maar toe jy hom leer ken, het jy agtergekom dat hy verkeerd voorgestel is. Baie het ’n soortgelyke ondervinding met betrekking tot die Bybel gehad.

Talle geleerde mense het ’n lae dunk van die Bybel. Kan jy verstaan waarom? Hierdie boek word dikwels verkeerd voorgestel of op so ’n manier aangehaal dat dit onredelik, onwetenskaplik of eenvoudig verkeerd klink. Is dit moontlik dat die Bybel verkeerd voorgestel is?

Was jy, terwyl jy hierdie brosjure gelees het, verbaas om te leer dat wat die Bybel sê, wetenskaplik akkuraat is? Baie mense is. Hulle is net so verbaas om te leer dat die Bybel nie party van die dinge sê wat baie godsdienste beweer dit sê nie. Party sê byvoorbeeld dat die Bybel leer dat God die heelal en alle lewe daarin in ses dae van 24 uur elk geskep het. In werklikheid is daar niks in die Bybel wat wetenskaplikes se verskillende skattings oor die ouderdom van die heelal of die aarde weerspreek nie. *

Daarbenewens laat die Bybel se kort oorsig van hoe God lewe op hierdie planeet tot stand gebring het, baie ruimte vir wetenskaplike navorsing en teorieë. Die Bybel sê wel dat God alle lewe geskep het en dat lewende dinge “volgens hulle soorte” gemaak is (Genesis 1:11, 21, 24). Hierdie verklarings bots dalk met sekere wetenskaplike teorieë, maar nie met vasgestelde wetenskaplike feite nie. Die geskiedenis van die wetenskap toon dat teorieë kom en gaan; die feite bly staan.

Daar is egter baie mense wat huiwer om die Bybel te ondersoek omdat godsdiens hulle teleurgestel het. Hulle kyk na georganiseerde godsdiens en sien huigelary, verdorwenheid en oorlogstokery. Maar is dit regverdig om die Bybel te oordeel aan die gedrag van party wat beweer dat hulle dit verteenwoordig? Talle mensliewende en opregte wetenskaplikes was al geskok oor die manier waarop party gewelddadige fanatici die evolusieteorie gebruik het om steun te verleen aan hulle rassistiese doeleindes. Sou dit regverdig wees om die evolusieteorie hieraan te oordeel? Dit is sekerlik beter om die teorie te ondersoek en dit te vergelyk met die beskikbare bewyse.

Ons spoor jou aan om dieselfde met die Bybel te doen. Jy sal moontlik aangenaam verras wees om uit te vind dat die leringe daarin grootliks verskil van die leringe van die meeste georganiseerde godsdienste. Die Bybel bevorder nie oorlog en etniese geweld nie, maar leer eerder dat God se knegte oorlogvoering en selfs die haat wat tot sulke geweld lei, moet verwerp (Jesaja 2:2-4; Matteus 5:43, 44; 26:52). Die Bybel staan nie fanatisme en ongegronde geloof voor nie, maar leer eerder dat bewyse noodsaaklik is vir ware geloof en dat onderskeidingsvermoë ’n onontbeerlike hulpmiddel is om God te kan dien (Romeine 12:1; Hebreërs 11:1). Die Bybel probeer nie nuuskierigheid onderdruk nie, maar spoor ons aan om ’n paar van die fassinerendste en uitdagendste vrae te ondersoek waarvoor mense nog te staan gekom het.

Het jy byvoorbeeld al gewonder: ‘As daar ’n God is, waarom laat hy goddeloosheid toe?’ Die Bybel beantwoord hierdie vraag, asook baie ander, op ’n bevredigende manier. * Ons spoor jou aan om vol te hou met jou soeke na die waarheid. Jy kan antwoorde vind wat fassinerend, opwindend en redelik is—en op oortuigende bewyse gegrond is. En dit is geen toeval nie.

^ par. 5 Vir meer inligting, sien die brosjure Is lewe geskep?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

^ par. 9 Sien hoofstuk 11 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.